Oor Fynbos en Walvisse

Welkom in my Wêreld!!!

Soos sommige van julle al weet, kom ek van Hermanus. ‘n Gebore en getoë Overberger en ek is nie ‘n bietjie trots daarop nie! Hermanus is in my gees, in my bloed. Vir my, die mooiste plek op aarde. En aangesien Hermanus in die hartjie van fynboswêreld is, wil ek graag hierdie pragtige blommeryk met julle deel. Vir julle wat alreeds hier was, hier is so ‘n bietjie “hersiening” en vir die wat nog nie hier was nie……julle beter planne maak, want julle mis uit, “big time”!!

Hier is dit dan….. (kliek op die foto’tjies om te vergroot)

Fynbos is ‘n versamelterm vir die plantegroei wat tipies is van die Kaapse Blommeryk.  Dit kom oorspronklik van die Hollandse word “fijnbosch” en verwys na die dominante klein en fyn blaaragtige struike.

Die fynbos bestaan uit vier hoofkomponente:  die proteas, heide, kannette (restio’s) en bolplantjies.  Die proteas is nie net die tipiese Koningsprotea soos ons dit as nasionale blom ken nie, maar sluit in alle fynbosstruike met breë, harde blare soos die wabome, speldekussings, tolbosse en die suikerbosse.  Die heide of Erica-agtige komponent sluit in die heide, blombosse, boegoes, ertjies, kol-kol en skoenlapperbosse.  Die rietagtige groep plante wat ‘n draderige groeivorm het, sluit in die restio’s, biesies en die grasse.  Die bolplante – net soos die naam aandui, is alle plantjies wat ‘n bol onder die grond maak.

Koningsprotea                    Erica (Heide)

Kanolpypie (Bolplant)          Restio  (Riet)

Fynbos kom hoofsaaklik in die laagland-gebiede langs die kus (Wes- en Oos-Kaap) en op die kusvlaktes voor asook in die berge en groei meestal in suur grond wat ‘n lae voedingswaarde het.  Wat verstommend is van die Kaapse Blommeryk, is dat daar nagenoeg 1300 spesies binne ‘n area van 10 000 vierkante km voorkom.  Die naaste kompeteerder is die Suid-Amerikaanse reënwoude wat slegs 400 spesies binne ‘n area van 10 000 vierkante km het!

Fynbos is ook die natuurlike habitat van vele diere. Hier is ‘n paar van hulle:

Chacma Bobbejaan (Stoutgatte!!)  Dassie (Soet, hy byt net seer!)

Geometriese Skilpadjie          Klipspringer

Oranjebors sonvoëltjie         Kaapse Platanna

Vuur speel ‘n baie belangrike rol in die lewe van alle fynbos plante en is baie algemeen gedurende die droë somermaande. Baie van die saadjies ontkiem slegs na die intense hitte van ‘n vuur. As kind kon ek dit nooit verstaan nie en het altyd my oë uitgehuil wanneer die berg brand.  Ons huis was reg aan die voet van die berg en ons het nogal ‘n paar benoude oomblikke beleef deur die jare!

            Veldbrand !!                                     

Die Fernkloof Natuurreservaat in Hermanus is gestig in 1957. Die reservaat beslaan ‘n area van 15 vierkante km en ‘n allemintige 1100 verskillende plantspesies is al hier gevind!  Hermanus spog dan ook met sy eie Erica – “Pride of Hermanus”. Hierdie botaniese wonder het meer as 50km se voetpaadjies vanwaar mens ‘n asemrowende uitsig oor Walkerbaai het.  Daar is ook ‘n besoekersentrum waar sommige van die plante wat in die reservaat groei besigtig kan word. Die jaarlikse Veldblommeskou vind plaas teen die einde van September elke jaar en val gewoonlik saam met die Hermanus Walvisfees. Elke Saterdagoggend word daar ‘n boeremark in die tuine van Fernkloof gehou waar daar organiese groente, eiers, tuisgebakte brood, pasteie, koekies en vars blomme en plante te koop is.

 

      Fernkloof Natuurreservaat Besoekersentrum

 

 Walkerbaai (Asemrowend!)       Voetslaanroetes

Nou ja, is die nie pragtig nie?

Hermanus is natuurlik ook bekend vir sy Walvisse. More sal ek meer daarvan vertel.

Fotos en inligting:

http://www.gouritz.com

http://en.wikipedia.org/wiki/fynbos

http://patsplace.co.za

http://www.fernkloof.com