Maandagoggend 19 Mei 2008, 7:30. Blou Maandag…..
So pas by die werk aangekom, gaan maak gou ‘n vinnige draai in die kleedkamer net om te sien of al die grimering darem reg aangesit is vroeër in my ek-kan-nie-glo-dis-al-weer-opstaantyd-nie toestand. Ok, alles lyk soort van reg – die lipstick op die lippe en die eye-liner op die oë, nie anders om nie – that’s a good start!!
Net voor ek omdraai om uit te stap vang ‘n beweging in die vensterbank my oog. “n Perfekte pikswart katjie met groen ogies loer vir my. Nou wat nou…..nie goed nie….my hart vermurwe. Ek steek my hand uit na katjie, vermoed hy sal seker maar uitspring en verdwyn, maar nie hierdie klein hartebreker nie. O nee, hy het ander planne.
Ek vryf oor sy koppie, en hy skuur liefderik terug, nogal met ‘n harde ge-rrrr-rrrr. Ek tel hom op, hy is so mak soos ‘n lammetjie. Druk hom teen my bors, ai, daardie gespin – dis soos ‘n dwelmmiddel – hy skuur sy koppie heen en weer onder my ken en knie saggies met sy pootjies en die rrrr-rrrr-rrrr word al hoe harder. Die ogies hang sommer so halfmas van lekkerkry. Ok, that’s it! I’m hooked! Ek lig hom op om eers inspeksie te doen - mannetjie of wyfie? A-ha! Mannetjie natuurlik. Weet duidelik hoe om ‘n vrou te betower…..
Ek besluit om hom neer te sit en te sien wat hy maak, miskien vat hy die pad? Nee wat, hy begin skuur teen my enkels, dan om die een been, dan om die ander. Elke tree wat ek gee hou kietsie by. Ek tel hom op en stap na my lessenaar. Daar sit ek hom neer op een van die stoele oorkant my lessenaar, lekker sag en warm. Die stoel is swart, kietsie is soet, slaap die ganse dag, niemand weet eers hy’s daar nie, tensy ek verklap. Dan is dit net ‘n ge-oeee en ge-aaaa.
“Wat gaan jy met hom maak?” Mmmm….het nog nie daaraan gedink nie. Moet ek? Wil ek? Ok, sal vanaand oor kietsie se lot besluit. By die huis wag reeds twee honde-kinders, Wollie en Sasha, gaan hulle vir kietsie aanvaar?
Toe nie, grootskaalse oorlog breek uit. “n Gespoeg en geblaas en geblaf vanaf die eerste oomblik. Binne ‘n minuut of twee word goed die helfte van my kitsch sitkamer ornamente gebreek of herrangskik. Daar gaan my engeltjies, my feetjies, my eendjies…..flenters. Na alles bedaar het, kies kietsie vir hom ‘n slaapplekkie op ‘n toonbankstoeltjie. Wollie en Sasha lê so ‘n entjie weg op die sitkamerbank op Mamma se bevel en gluur na kietsie. Verhoudinge is gespanne, to say the least.
Die kompleks reëls stip dit baie duidelik uit – maksimum twee diere. Ek bel die opsigter net om seker te maak. ‘n Baie besliste ”nee” kom van sy kant af. Maandagaand slaap kietsie knus en warm by my. Ons droom soete drome van ‘n wêreld ver van hier, waar almal gelukkig en in vrede saamleef.
Dinsdagoggend, die onvermydelike oproep na die Dierebeskerming. “Hallo, ek het ‘n pragtige, liefdevolle katjie gevind en soek ‘n goeie huis vir hom. Help asseblief!”
Pikswart katjie met smaraggroen oë – vergewe my….





Ek het nou lekker gelees. Jammer oor jou eendjies wat flenters is eendjie
Arme katjie maar ek is seker as hy so liefdevol is, sal hy gou ‘n huis kry. Mens kan ook nie die hele wêreld red nie, al wil jy so graag.
Het jou nou raak gelees en dit geniet! Sal gereeld kom inloer!